Na ‘n lang; baie droë seisoen; het ons eerste reëns geval en die huilroep van die voëls verander in ‘n ‘n roep van dankbaarheid.
Die skaam Piet-my-vrou roep luidkeels deur die dag en sommer tot laatnag terwyl dit weerklink tussen die lowergroen bome om die Lodge.
Ons hier op Khalanyoni is glad nie skaam nie , ons is trots om die Khalanyoni belewenis aan almal bekend te stel.
Ons Lodge het 3 ruim chalets met elk 4 enkel beddens en ook een dubbelbed op die boonste vloer. Elke chalet het ‘n kombuis en badkamer saam met ‘n gesellige stoep wat uitkyk op die hoofgebou en pragtige tuine.
Ruim afdakke waar voertuie parkeer kan word en ‘n swembad langs die lodge gee vir Pa gemoedsrus oor sy viertrek in die skaduwe en kinders wat veilig kan swem onder toesig.
Langs die hoofgebou is die Lapa en groot Boma. Dis hier waar daar gebraai en gekuier word onder die sterre saam met die knetter van ‘n bosveldvuur. Wanneer dit onsmaaklik koud of winderig raak, kan ons in die Lodge kuier om die kaggel en die lang tafel wat ook naby die snoekertafel staan. Die kroeg en sitkamer maak ook deel uit van die area en kinders en familie kan ontspan waar almal iets lekker kan doen. Wie sal vir Ma kwalik neem met haar voete in die swembad, ‘n glasie wyn in die hand en Njalas wat voor die Lodge staan?
Ons het ook die Jagkamp, wat uitkyk oor ‘n watergat en wild wat kom en gaan oppad water toe. By die Jagkamp het ons 3 rondawels met 5 enkelbeddens in totaal. Hier is ‘n ruim plaaskombuis en ablusie wat eenkant staan soos in die ou dae.
Die lapa met sy binnebraai en groot kuiertafel, verseker ‘n persoonlike tyd saam met jou vriende en familie. Daar is ook ‘n oop braai area met ‘n vuurhert waarom almal kan sit onder die sterre.
Skaars 150m verder is die watergat waar Bobbejane en Vlakvarke baljaar voordat die groter wild kom suip en jou genoeg kans gee om hul mooi te bekyk.
Afgesien van die nagenoeg xxx voëlspesies op die plaas, het ons ook 21 wildspesies. Volstruise, Blou ape, Vlakte sebras, Bobbejane, Vlakvarke, Kameelperde en buffels is ook deel van die groot verskeidenheid wildlewe op Khalanyoni.
Die teenwoordigheid van Rooikatte, Bruin Hyena, Rooijakkals en die skugter Luiperds, verras ons telke male, veral as jy vars spore om die watergate en Lodge kry.
Na ‘n vroegoggend boeretroos en beskuit op die stoep langs die swembad, ry ons met die wildbesigtigings voertuig na die Noorde kant van die plaas. Hier naby die dam het ons ‘n nuwe boorgat gesink en pomp tans met sonkrag water na die dam en suipgate.
Dis bergwêreld hier en ons druk deur oor die paar klippe wat ons skommel verby ‘n trop groot koedoebulle wat poog om weg te kruip agter die welige blare-kombers van ‘n enkele Blinkblaar wag-’n-bietjie. Die wild is lekker mak en geleentheid om mooi fotos te neem is groot.
‘n Trop Rooibokke lê braak om ‘n klipsout blok en die Tarentale skrop onder die struike vir insekte en oorloop sade.
Terwyl die sonpomp water wegstoot na Wildebeesdraai, kruis ‘n stewige trop Sebras die pad en steek verbaas vas nadat hul oor die paadjie is. Daar is ‘n enkele vulletjie by hulle en proes omtrent om sy kordaatgeit te wys. Die Blouwildebees koeie en verse is ver dragtig en die groot reën sal sorg dat hul vrede is om hul kalwers die wêreld in te bring.
Die pad kronkel tot by Wildebeesdraai en hier is ‘n mooi gesonde trop Gemsbokke by die suipplek. Die sonnetjie vel neer op ons en ‘n koeltekol onder ‘n groot Maroela boom is ons bene-rek oomblik saam met yskoue drankies en ‘n volgroen sambreel oor ons. Hier vertel ons gids ons ‘n paar natuurfeite saam met interessante staaltjies uit die jagveld.
Van hier ry ons af in Vissiedam se rigting waar ons ‘n mooi trop Kameelperde kry wat geruisloos die toppe van die bome fynkam vir sappige groeipunte en blare. Hulle is baie rustig en gee vir ons kans om hul lang wimpers te bewonder en ook die nuweling kalf van naby te sien.
Verby die Vissiedam loop ons ‘n stewige trop Elande raak wat reeds besluit het dat hul onder ons wind wil uitkom ,voor hul gaan staan en terugkyk.
Op ons pad terug na die Lodge loop ons Blesbokke, Springbokke en ‘n paar Volstruise raak wat ook die koelte kolle begin opsoek.
Teen 11 uur is ons terug by die Lodge waar ons ingewag word met Jammer-lappies om die ergste stof en sweet van ons gesigte te vee. Die kinders pyl reguit na die swembad terwyl ons onder die bome in die tee-tuin ons yskoue drankies geniet.
Dis tyd vir die “Laat-ontbyt” waar almal in die Boma bymekaar kom en die innerlike voed met die ‘Khalanyoni-Brunch’.
Almal verkeer rustig en die kinders kom maak jou wakker met hul nat lywe uit die swembad. Dis 4 uur en ons pak weer die veldpaadjies aan na ‘n lekker koppie Rooibos, koeksisters en suurlemoen meringue in die maag.
Ons ry nou Suidwaarts verby die Klipdam waar Nyalas en Koedoes ons pad kruis. Die klomp koedoes is nie skaam nie en strek grootoog om ook te sien wat agterop die Cruiser is. Verby die vliegveld swenk ons Oos en word ons verras deur die buffels wat onder ‘n groot Raasblaar koelte soek. Daar is een jong matriek-bulletjie wat sommer nader kom vol brawade en geite. Adrenalien kan nie vasgevang word saam met die fotos wat geneem word van die hardebaarde nie. Hul skuifel eenkant toe en ons groet hulle oppad na die ‘Suipgat’ waar ons bene rek en so ietsie nuttig. Moddervoete en nat klere is al wat die jongklomp van ‘Suipgat ‘ saamvat terwyl ons kronkel verby Witpens watergat oppad na die kloof.
Swartwitpense en ‘n mooi trop Rooibokramme wat oppad is water toe, is ‘n gesig wat ons daagliks sien om die 12 watergate.
Soos die son stadig wegraak in die kloof met koppe wat weerskante uit toorn , trek ons op in die kloof waar ons weer verby die lang skaduwees uitklim tot waar die son weer lekker bak vir oulaas voor hy gaan rus.
Prentjie-mooi Elandbulle verras ons bo-op die plato waar hul takke breek en smul aan die sappige groeipunte. Selfs die Bobbejane roep hard uit teen die berg en waarsku almal teen ons aankoms.
Die Cruiser se neus draai Ooswaarts en ons beweeg teen ‘n koppie uit.
Soos ‘n gordyn op ‘n konsertverhoog, maak die bome oop en ‘n rooisteen paadjie wys ons die pad na bo. Met die doodmaak van die enjin is almal uit die wegspringblokke op die rooistene tot by die uitkykpunt.
Die kinders ontdek die ‘Troon’ en almal staan eers daarheen om die uitsig te beleef. Met die tafeldoek wat tot lewe kom saam met die lekker briesie wat bosveld geure verbywaai, geniet ons yskoue drankies met die son wat besig is om ver te gaan lê agter die horison. Selfone kom tevore en fotos word geneem om ‘n stukkie son saam huistoe te vat en rustigheid te whatsapp na vriende wat dit nie kon maak nie.
Sprokie-mooi sonsondergang saam met familie en vriende wat aansien laat wegkwyn en jou op die grond neersit vol natuur vrede.
Die eerste baadjies en kniekombersies word nader getrek, terwyl almal kuier sonder ophou of gedagtes van die week wat was en wat kom…..
Naggeluide agterop die Cruiser weerklink soos die klippe skuifel onder die wiele afwaarts deur die kloof na die Lodge, en die Piet-my-vrou roep steeds vanuit die groen boomkombers.
Die vlamme staan reeds hoog in die boma en daai rustigheid verander die naweek na ‘n afsaal-vakansie, waar tyd stilstaan.
Varsgebakte brood, plaasbotter en vyekonfyt…….Sappige steaks met ‘n vetjie om die lyf en ‘n lekker slaai wat my groentelus lekker bederf. Dit is die resep wat my rustig maak en van tyd laat vergeet saam met my natuurvriende om die hardekoolvuur onder die sterre.
Na ete sit ons nog om die vuurtjie met ‘n laatnag boeretroos in die hand. Dit raak grafstil om die vuur en gedagtes dwaal tussen sterre soos die ooglede terugdruk kooi toe.
Na ‘n warm stort raak die nag stil en ek luister na die roep hier buite…
Uitgerus en vars staan ons op en geniet ‘n lekker ontbyt voordat ons sleepvoet beur om die tassies in die bakkie te laai.
Ons gedagtes loop weg veld toe soos ons die grondpad verruil vir die harde swart huistoe.
Die Khalanyoni span nooi jul hartlik uit om by ons te kom kuier en die natuur te kom beleef saam met jul familie en vriende.